Is jy nuut op die plek? Gedra jou dan so.

Sonder dat ons nog ooit die plek gesien het trek ons in die April-vakansie van 1979 na Lady Grey. Eerste indrukke is altyd belangrik. In hierdie geval praat ek van die indrukke wat die dorp op ons maak en nie andersom nie. Ons het vir die Vrydagaand by die hotel op Lady Grey bespreek. By oom Jimmy en tannie Joey, wat die bestuurspaar was. Toe ons die Vrydagaand tussen 10:00 en 10:30 by die Mountain View Hotel aankom het die voordeur oopgestaan, maar al die ligte was af en daar was geen lewe van enige aard nie. Ja, daar het ’n bruin hond op die stoep rondgesnuffel.

Dit was so stil soos ‘n klas waar die kinders nie opdaag nie. Hulle speel “chicken”, die wat eerste loop na pouse is “chicken”. Die arme onderwyser staan en wag in ‘n leë klas. Hy verstaan nie, want die kinders by die klasse langsaan is lankal in. So voel ons by die Mountain View daardie eerste Vrydagaand. Ons staan voor ’n oop voordeur, maar daar is niemand nie. Ons het oom Jimmy gaan wakker klop en hy het in sy slaapklere vir ons die kamer gaan wys en oopgesluit.

Op ‘n Vrydagaand is die hotel reeds vroegaand toe. Maryna en ek het vir mekaar gesê “hierdie is maar ‘n dooierige dorpie.” Min het ons geweet dat ons van ons lekkerste jare hier sou deurbring.

Ons meubels daag die volgende dag op. Ons trek in, in ons huurhuis in die straat wat doodloop in die kerk. Die huis het aan oom Kemp Vorster behoort. Elke dorp spog met sy “mooiste kerk in die land”, Lady Grey praat net die waarheid oor hulle kerk as hulle dit doen.

In die paar dae voor die skool begin stap ons die dorp plat. Dit is nie te moeilik nie en gou was ons in elke straat en het ons elke gebou gesien. Destyds was daar heelwat verwaarloosde en vervalle ou huise. Dit het egter op ’n manier bygedra tot die mooiheid van die dorp so tussen die berge. Ons ken nie berge nie en kom nou van Willowmore af waar daar nogal baie stof was. Lady Grey lyk anders! Ons glo hier sal ons lekker bly.

Foutjie! Ek met my groot mond. Met ons stappery het ons ’n huis agter Pep Stores gesien wat as ’n duiwehok gebruik is. Die vensters is almal uit en met klein ogiesdraad toegespan. Daar is honderde duiwe in die huis. Hier in die dorp se woongebied. Ek verbeel my ek kan sien hoe die luise teen die mure rond hardloop. ’n Duiwehok in die dorp is beslis ongehoord en onhigiënies! Dis in elk geval my oordeel.

Die volgende dag begin die tweede kwartaal en is dit my eerste dag by die nuwe skool. Ek vertel hierdie storie van die duiwe wat so onhigiënies is aan die standerd 7’s in my klas en voeg by hoe geskok ek was om hierdie “luis broeiplek” in die middel van die dorp te sien. “Hoe kan die munisipaliteit dit toelaat en hoekom het geen dorpenaar nog gekla nie?”

Dieselfde middag kom ek in die kafee en drink ’n koeldrank. Nie lank nie toe kom die eienaar, Karamba, uit agter die toonbank en reguit na my.  Karamba het ’n paar littekens op sy gesig, glo (so vind ek later uit) a.g.v. ’n motorfiets en doringdraad-heining. Hy lyk nie vriendelik nie en nogal redelik dreigend. ’n Skoolseun, Frans Lombard, struikel oor ’n stoel soos hy uit die pad probeer kom. In die proses stort hy van sy koeldrank op ’n meisie wat hom sonder om te wag dadelik ’n goeie klap gee. Dit alles gebeur baie vinnig. Karamba is nou by my. Hy staan bo-oor my. Frans Lombard het so pas ’n goeie klap gekry.

Karamba se sussie, klein Odendaal, was in standerd 7. Ek het al die goed nie geweet nie, want ek is mos nuut hier. Karamba was ook die duiweboer, eienaar van die kafee en nie op sy mond geval nie. Natuurlik het hy ook nie daarvan gehou as iemand sy duiwe kritiseer nie. Ook dit het ek nie geweet nie, want ek was mos nuut op die plek. Daar is skoolkinders ook in die kafee. Soos Frans Lombard suig hulle almal aan hul koeldrande, sprak geen woord en kyk wat nou met hul nuwe onderwyser gaan gebeur. Die afwagting is groot!

Die kliënte in die kafee ken vir Karamba en weet dat geen mens enige negatiewe goed oor hom of sy “goete” maak nie. Ek het dit nie geweet nie, want ek is mos nuut op die plek. Karamba praat hard met my sodat almal kan hoor, maar ook in harde tale wat nie vir skoolkinders se ore bedoel is nie. Dit kom daarop neer dat dit sy duiwe is en dat ek niks daaroor te sê het nie. Ek praat mooi en vra om verskoning en word uiteindelik darem nie geklap nie.

As jy nuut op ’n plek is, gedra jou so.

Voornemende seremoniemeesters of enigiemand wat van skoon grappe hou gaan kyk gerus hier:  http://grappies.com

2 thoughts on “Is jy nuut op die plek? Gedra jou dan so.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.