Die skool op Lady Grey, waar ek nou as departementshoof gaan begin, is ‘n lieflike sandsteengebou. Die skoolgetalle is klein, net-net oor die honderd kinders vanaf Sub.A (Gr.1) tot by Standerd 10. (Gr. 12) Die hoof is mnr. F. P. Swanepoel, met een Departementshoof, die uwe, en nog veertien ander onderwysers. Ons is in totaal sestien op die personeel. Sommer vir die interessantheid, as ek 140 leerders deel deur 16 onderwysers beteken dit ons verhouding, onderwyser tot kind, was 1:8,75. Ek moet meld dat een van die sestien die Musiek-juffrou, me. Liesbet Stapelberg was, en nog een die Spesiale Klas juffrou, nl. Me. Nellie Aldum. Eintlik was ons dus net veertien in die “gewone” skool. Steeds net 10 per onderwyser.

Ek is die Departementshoof/tweede in bevel en ek is dus ywerig om meer te doen as die ander onderwysers, ek meen, ek is mos meer senior as hulle. Van die hoof se kant af is dit so stil soos die graf in hierdie verband. Op ‘n dag laat kom hy my kantoor toe. “Luister”, sê hy “ek het twee oproepe van ouers gekry. Hulle kla oor juffrou Afwesig en mnr. Lui.” “Meneer verdedig toe darem seker dadelik die twee kollegas”, dink ek sonder om iets te sê. Hy gaan voort: “Die ouers sê na drie maande is daar nog amper niks werk in hul kinders se skrifte nie, en die bietjie wat daar wel is, is nog nooit nagesien deur die onderwyser nie. Meneer, jy moet asseblief ondersoek instel en ‘n plan maak.” Nou voel ek eers trots, my eerste “bevorderingspos-taak”. Ek wonder of Francois Pienaar in 1995 toe Mandela vir hom gesê het hulle moet die beker vir SA wen, ook so gevoel het soos ek nou.

Daardie jare was dit die trots van elke onderwyser om “gereeld in die skrifte van die leerders te kom”. Al was dit net om deur te blaai, hier en daar ‘n rooipen-merk te maak, die datum neer te skryf en te parafeer. Ons het selfs plakkers (‘stickers”) bestel wat ons in die boeke geplak het. Op die plakkers het goete gestaan soos “mooi”, “hou so aan”, “pragtig”, “vol punte”, ens. Daar was selfs ‘n groot ronde goue plakker wat gelees het “Skoolhoof Toekenning”. Die kinders het die goed waardeer.

Nadat ons die skrifte van die betrokke leerders en vakke bekyk het was dit duidelik dat die boeke nooit nagesien word nie. Hieraan moet iets gedoen word. Sommige kinders het aan die einde van die eerste kwartaal nog net die boeke oorgetrek en hul name en die vak en die jufrou/meneer (laat ek nou nie diskrimineer nie) se naam buite op geskryf. Verder was die boek nog totaal skoon en nuut, ongeskonde en rein. Jufrou Afwesig sê “As ‘n hoërskool kind nie werk nie is dit mos sy saak” en mnr Lui se verweer is “ek was nog te besig met die atletiek en het nie tyd gehad vir iets anders nie, ‘n man kan ôk net soveel doen.”

Dit gee my die geleentheid om ‘n stelsel van “boekkontrole”, wat ons by Karasburg en Willowmore gebruik het, voor te stel. Dit raak toe my “projek”. Op dieselfde manier kon ek so ‘n paar take identifiseer, of eintlik skep, wat die werk van die Departementshoof is. Ek moes maar gereeld by mnr. Swanepoel in die kantoor inloer en vra of daar nie iets is waarmee ek kan help nie. Amper soos Habana wat sy vorm moet herwin en maar moet werk soek.

My eerste kwartaal as Departementshoof het gekom en gegaan. Na die Junie-vakansie, aan die begin van die derde kwartaal was die skoolhoof nie daar nie!. Oom Dan, voorsitter van die skoolkomitee, bel my twee dae voor die skool moet begin en sê “Streis, mnr Swanepoel het bedank met onmiddellike effek. Hy het reeds sy nuwe pos by die SABS opgeneem. Jy sal moet waarneem as hoof tot ons ‘n aanstelling kan maak.” “Huh”, sê ek en daarna, “ekskuus oom Dan, sê weer?”. Toe die skool twee dae later begin besef ek dat hierdie nie ‘n grap is nie, maar die werklikheid.

Ek het slegs een kwartaal ervaring as Departementshoof. Die “ervaring” het ook net bestaan uit ‘n paar take wat nou en dan voorgekom het. Nou is dit ‘n kwessie van spring en swem. Gelukkig was daar ‘n wonderlike personeel en net so ‘n goeie “skoolkomitee”. (met inflasie staan dié liggaam tans bekend as die “Beheerliggaam”)

Vakaturelyste  (Kaapland het dit “gasette” genoem)het gelukkig gereeld verskyn en my waarneming as hoof, sal hopelik net vir een kwartaal wees. Die eerste advertensies verskyn en ons hoof-pos is daar in. Dit word adverteer vir iemand met Wiskunde en Natuur-en Skeikunde, want dit is wat die vorige hoof gegee het. Vir die huidige gee ek Wiskunde tot Matriek, met geen ervaring, en die Biologie onderwyser moes die Skeinat hanteer. Ek gaan later terugkom by my Wiskunde-gee-ery.

‘n Week nadat die aansoek om die hoof-pos gesluit het is oom Dan by die skool. Ek dog hy kom met goeie nuus. “Luister” sê hy, “ ons adverteer nou in die volgende vakaturelys die hoof-pos en die departementshoof-pos.” “Jislaaik”, dink ek, “ek was een kwartaal departementshoof en het een kwartaal waargeneem as hoof en nou word ek demofeer na posvlak een.” Ek kyk oom Dan net geskok aan. Sê niks, want ek weet nie wat om te sê nie. Ek haal net asem.

Nou verduidelik hy dat omdat die skool ‘n Wiskunde-Skeinat onderwyser moet hê en die vorige advertensie niks opgelewer het nie hulle nou twee poste as lokaas aanbied. Ek moet dus aansoek doen vir die hoof-pos. As daar net vir die departementshoof iemand met die regte vakke aansoek doen moet hulle my die hoof maak.

Intussen neem ek waar as hoof en gee Wiskunde en Rekeningkunde van st. 8 tot st. 10. Die ergste van alles is dat ek dit geweldig geniet, want ek voel baie belangrik. Daarby het die gemeenskap besef dat die kalf in die put is en my goed ondersteun. (moet dit asseblief ook vir niemand sê nie, maar onthou daar was minder as 10 leerders in ‘n klas en in die Wiskunde, wat ‘n keusevak was, dit was die enigste keuse: óf Wiskunde óf Geskiedenis, ewenwel, in die Wiskunde-klasse was daar minder as 5 leerders.)

Die poste sluit weer en hierdie keer is ek deel van die vergadering wat dit hanteer. As hoof sit jy mos in as die skoolkomitee vergader. Hulle sit almal daar, Dorothy Schlebusch, sy neem die notule en praat die hardste en meeste, oom Dan, Tjaart Vorster met pyp en al, Niel Marais, wat niemand ooit weet of hy ‘n grap maak of ernstig is nie, Johan Fouché en nog ‘n paar mans. Die mans het almal Grashoppers aan, ‘n leer skoen met ronde punte en dik rubbersole. Oom Dan se Grasshoppers is swart, die ander is bruin gepôlies. Die aansoeke om die hoof-pos word eerste behandel. Daar is geen aansoeker wat Wiskunde en Skeinat kan gee nie.

Ek raak nou senuagtig van opgewondenhed, want die dobbelsteen val mos nou in my guns. Die komitee is nou verplig om te kyk of daar so ‘n persoon is wat aansoek gedoen het om die Departementshoof-pos. Daar is. Ek gaan aangestel word as die nuwe hoof! Oom Dan vra dat ek asseblief die vergadering moet verlaat aangesien my aansoek om die hoof-pos ook nou oorweeg moet word.

Ek storm by die sekretaresse, Rina Marais, in en bel vir Maryna en sê sy moet die sjampanje in die yskas sit. Die komitee roep my weer in en wens my geluk met my aanstelling as die nuwe hoof. Nou sit ek in by die aanstelling van die Departementshoof. Mnr. Biggs, wat opgelei is vir Natuur-en Skeikunde word aangestel. Dit was die heel eerste aanstelling wat gemaak is “onder” my as hoof. Ek was letterlik slegs ses maande lank ‘n Departementshoof waarvan ek die laaste drie maande waargeneem het as hoof.

Destyds, voor ek Lady Grey toe gekom het was ek baie teleurgesteld omdat ek ‘n geleentheid om na Franschhoek toe te gaan vir ‘n onderhoud om ‘n departementshoofpos daar, misgeloop het. Indien ek nou op Franschhoek was sou ek beslis nie nou al ‘n hoof geword het nie. Ek sou dalk vir jare lank Departementshoof gebly het.

Ek was op die regte tyd op die regte plek. Die meetsnoere ……

 

Followers en opmerkings is asb. steeds baie welkom

2 thoughts on “Op die regte tyd op die regte plek … Hoof

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.