Ek het in die tweede kwartaal van 1980 vir die eerste keer ‘n skoolhoof geword. Dit was by HS David Ross in Lady Grey. Voor die einde van daardie jaar bars my balon (my “bubble”) amper.

Ons het hierdie verskriklike brief van die Kaapse Onderwysdepartement (KOD) ontvang. Dit was die brief wat dit duidelik gestel het dat ons vanaf volgende jaar slegs ‘n laerskool gaan wees. Ons moet een-en-vyftig kinders (na inflasie “leerders”) in die hoërskool wees en ons is slegs drie-en-veertig. Natuurlik het ek gebel, vir ons Superintendent van Onderwys, (voor inflasie was dit ‘n skoolinspekteur) mnr. Ulrich Muller. Hy kan nie help nie. Ek wil dit steeds nie aanvaar nie en bel die KOD in Kaapstad. Ek praat sommer met mnr. Walters, die SGO, self. My appél is natuurlik dat ek so pas aangestel is as hoof en niks hiervan geweet het nie. “Jammer, meneer, hierdie is julle derde brief. Hierdie keer is dit finaal.”

Nou glo ek dat as die skool in my eerste jaar as hoof, “onder my toemaak” sal dit die einde van my onderwysloopbaan wees. Ten minste sal daar nie verdere bevordering wees nie ! Natuurlik moet ek hierteen baklei.

Ek wil nie aanvaar dat ons, ons hoërskoolstatus gaan verloor nie. Nôttendêm. Ons gaan dit nie toelaat nie. Nie sommer so nie. Planne sal gemaak word. Die “ons” is ek en die Skoolkomitee (wat ook met inflasie “Beheerliggaam geword het) met voorvatters soos Tjaart Vorster, Niel Marais, oom Dan Cloete (voorsitter), Johan Fouché en Dorothy Schlebusch. Ons hou ‘n hele paar “dringende” vergaderings en bid ernstig. Daar moet ‘n oplossing wees ! Die volle personeel van 16 is ook betrek, dit raak beslis ook hul loopbane.

Op hierdie stadium was daar, vanaf Sub. A tot Matriek, ongeveer 125 kinders in die skool. Dit het ook die Spesiale Klas ingesluit ! In die Hoërskool was 43. Dit moet 51 wees, so sê die “Departement”. Ons kort voor die einde van die jaar agt hoërskoolkinders. Terloops,  ons was sestien onderwysers.

Moontlike planne word genoem en bespreek. Eerstens kan ons al die ouers wat in ons gebied bly en wie se kinders in ander skole is, ompraat om hul kinders “terug te bring”. Daar was ‘n paar in Aliwal-Noord en dan was daar ‘n paar Engelssprekendes in Queens op Queenstown en natuurlik ‘n paar Afrikaanssprekendes in Grey en Oranje Meisies in Bloemfontein. Al hierdie mense is persoonlik aan elkeen van ons bekend en hulle word persoonlik bespreek. Spesifiek die omstandighede hoekom hul kinders nie by ons in die skool is nie.

Die Engelssprekendes in Queens verstaan ons, want hoewel ons “op die boeke” dubbelmedium is, is ons in praktyk Afrikaans. Die Afrikaanssprekendes het elke geval sy unieke omstandighede gehad. Daar was die regtig begaafde sportsterre wat Bloemfontein toe is en daar was huislike omstandighede wat dit beter maak dat die kinders in Aliwal by ouma is, ens. Dit is gou duidelik dat om mense te probeer ompraat om hul kinders “terug te bring” nie sal werk nie. Nog ‘n plan ?

Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Gelukkig het almal van ons geglo dat die skool gered moet word en dat dit gedoen kan word. Uiteindelik het ons besef dat ons kinders moet “invoer”. Hier moet ek noem dat dit in die dae was toe “tandepasta nog wit was” (aanhaling van my broer se sê). Dit was voor 1994. Die swart skool wat op ons grens was het oorgeloop, maar dit was nie ‘n opsie nie. Dit was in die tyd van apartheid, daar was verskillende onderwysdepartemente vir elke rassegroep.

Ons het besef dat ons stadskinders na Lady Grey moet lok. Nou konsentreer ons op al die positiewe wat die platteland, spesifiek Lady Grey, vir ‘n stadskind kan bied. Ons het goeie koshuisgeriewe gehad, Lady Grey lê tussen die berge en is baie mooi. Daar was ook ‘n nege-putjie gholfbaan wat ons in ons “bemarking” sou gebruik. Die besprekings lei ons na arm Afrikaanssprekende mense in die stede. Dit sal ons “teikenmark” wees.

In hierdie jare was daar nie iets soos skoolgeld nie. Koshuisgelde wel, maar dit is  nie ‘n probleem nie. Die staat sal ‘n Kind se koshuisgeld betaal indien ‘n maatskaplike werker aanbeveel dat so ‘n kind koshuis toe moet gaan. Dit het maklik gebeur omdat huislike omstandighede swak was.

In Lady Grey se boerdery gemeenskap was daar ook heelparty plaashuise wat leeg gestaan het. Ons kon selfs gesinne lok met “gratis” behuising. Die kriteria was dat hoe meer skoolgaande kinders sulke ouers het hoe beter is hul kans dat hul aansoek sal slaag. Sulke mense sal ‘n inkomste êrens moes kry. Hiervoor sal ons op die gemeenskap se knoppie druk. Plaaslike besighede moet besef dat as die ouers hul hoërskoolkinders Maandag, sê Aliwal toe vat en Vrydag weer gaan haal, hulle daar sal besigheid doen. “Red” die skool beteken dus “red die dorp”.

Die skoolkomitee belê toe ‘n vergadering in die stadsaal. (Hoekom ‘n “dorp” ‘n “stadsaal” en nie ‘n “dorpsaal” het weet ek nie, maar alle dorpe het)  Die sakemanne is spesifiek genooi. Tjaart, (hy was ‘n groot sakeman van die dorp) was vanselfsprekend daar, maar so ook Abré Vos en sy pa van die garage en oom Kappie,(sy van was Kapp) die algemene handelaar, en al die res. Daar is ook ‘n paar spesifieke boere genooi op wie se plase ons weet leë huise is.

Die opkoms by die vergadering is goed, amper soos by ‘n DA vergadering op Steytlerville in 2011 met die munisipale verkiesings. Oom Dan open die vergadering en ek skilder die prentjie donker van hoe die dorp “toemaak” as die skool toemaak. Die uitkoms van die vergadering is baie positief. Die besigheidsmense beloof om “nuwe intrekkers” sover as moontlik in diens te neem en boere stel huise wat leeg staan beskikbaar. ‘n Paar huise het selfs ‘n melkkoei ook by plus ‘n hoender of twee vir ‘n paar eiers. Die intrekkers moet slegs die plek skoonhou.

Die vergadering het dit reggekry om op een of ander manier ‘n gees van opgewondenheid en afwagting in die dorp wakker te maak. Die volgende stap was dat die skoolkomitee ‘n advertensie in die Sondag “Rapport” geplaas het. Op die advertensie het ons die gholf beklemtoon. Twee seuns, nl. Dawie Naudé en Leinad Kotzé, was die “modelle”, met gholfstokke en al, op die advertensie.

Die advertensie is geplaas. Ons kon net ‘n klein advertensie bekostig en boonop slegs vir een Sondag.

Nou wag ons almal in spanning en groot opgewondenheid om ons advertensie in die koerant te sien. Sal daar reaksie wees ?Die advertensie het ‘n Sondag verskyn toe Alwyn Burger, Departementshoof of “tweede in bevel”, en sy vrou, Viljean, saam met my en Maryna vir die dag uitgery het Rhodes toe. Ons het oor Naudé’s Nek gery. Dit was lank voordat Tiffendale daar naby ontwikkel is. Ons koop ‘n Rapport op Barkly Oos, Karamba op Lady Grey was nog toe. Ons advertensie is daar ! Leinad en Dawie is herkenbaar, dit lyk baie professioneel. Toe ons die aand by die huis kom het oom Rodderick Schultz van die sentrale (handsentrale) laat weet die mense soek my. Sowaar daar was reaksie. Ouers het gebel en belanggestel. Ons het hulle met dankbaarheid aanvaar. Die opgewondenheid was groot ! Dit het gevoel of honderde mense die Sondag gebel het. Dit was seker maar net tussen 5 en 10.

Sulke kinders moet per trein kom. Skielik moet ons ‘n “Treinfonds” stig. Daar was genoeg beloftes by ons vergadering en ‘n paar mense het gesê ek kan hulle maar elke keer bel, hulle sal die treinkaartjies  betaal. Die kinders het dan tot op Lady Grey stasie gekom waar ek, en gewoonlik Alwyn Burger, hulle gaan haal het.

Vanaf die stasie het ons hulle koshuis toe geneem en dan skool toe sodat hulle, hul ouers kan bel om te sê hulle het veilig aangekom ens. So bel ‘n Bennie-outjie, hy was ‘n WP-atleet, eenkeer terwyl ek buite op die stoep staan. Ons hoor hoe hy vir sy mense sê hy bel nou hier van die “skooltjie” af. Dit het vir my verkleinerend geklink.  Vir my was dit ‘n SKOOL. Ek het net gedink, “ag bog met jou man, jy sal net ‘n rukkie by ons wees dan sal dit vir jou ook ‘n SKOOL wees.”

Die uiteinde van die storie was dat die “reddingspoging” ‘n groot sukses was. Die getalle het gestyg na amper 180 in die hele skool en 76 in die hoërskool. Ons het later ook CMR-kinders uit Port Elizabeth met die skoolbussie aangery. Allerhande soorte, die meeste was wonderlike kinders. In ‘n volgende storie sal ek van ‘n paar spesifieke kinders en situasies vertel.

Vir die skool se personeel en vir Lady Grey as dorp, het dit ‘n hele “ophef” veroorsaak. Almal van ons het skielik gevoel ons beteken iets vir hierdie kinders. Ek glo tot vandag toe ons het. Ook ons “ou” kinders het na vore getree en die kinders naweke genooi.  Vir my, persoonlik, het hulle net so baie beteken. Dit was skielik erg lekker om ‘n onderwyser te wees. Die gevoel dat dit ‘n “roeping” is was weer versterk. Boonop was ek nie net ‘n onderwyser nie, ek was die hoof, die kat se snor.

Prof. Chimpey Cawood het altyd op sy OLOS-kursusse (Onderwys Leierskap Ontwikkelings Seminaar) gesê “pasop, sodra jy terugsit ‘big fat and happy’, moet jy weet die groot moeilikheid is net om die draai.” Hy het gepraat van iets wat die waaier gaan slaan. Dit het vir my gevoel asof dit enige oomblik moet gebeur. Dinge was amper net te goed om waar te wees. Op daardie stadium het niks enige waaiers geslaan nie. Dankbaar.

Prestasies en suksesse is behaal. Sommige ouers wie se kinders in Aliwal en Bloemfontein was het selfs hulle kinders teruggebring na Lady Grey. Ons het ook op die atletiekbaan en rugby- en netbalvelde presteer. Akademies het die skool ook goed gevaar.  Daar was ‘n positiewe gevoel van “ons kan alles” doen.

Om leerders in te voer van buite is in vandag se  terme nie “volhoubaar” nie. Die staat betaal bv. nie meer vir sulke leerders koshuisgelde en skoolgeld nie. Lady Grey se skool, dit was Hoërskool David Ross, het later verander na die Witteberg Kunste Akademie. Vandag is dit die Lady Grey Kunste Akademie. Op die manier trek hulle steeds leerders van buite en is die skool steeds aan die gang. Dit is ‘n meer “volhoubare” oplossing.

Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Voorspoed aan Witteberg Kunste Akademie.

(lewer asb kommentaar en word ‘n “Follower”)

4 thoughts on “Red ons Hoërskoolstatus

  1. Lekker om weer ‘n storie te lees. Elke skool se nagmerrie, poste-voorsiening en leerlinggetalle.
    Dis alweer sulke tyd en hoor hoe die nuwe geslag spook en spartel om hulle skole te red.
    Groete daar.

    Like

  2. Ai, ek was ‘n jong onderwyser. Die skoolhoof , Mnr Streis Wahl, kry my by die tennisbaan. “Weet jy dat die skool einde van die jaar moontlik sluit”. Sjoe in my eerste onderwys[pos en hoor net. As ek vandag terugkyk was dit ‘n worderlike tyd en ‘n besondere geleentheid om as onderwysrespaar en later koshuisouers met al die kinders te kon werk wat ons skool “kom red het” Geluk aan die strydrosse wat die groot besluit geneem het.

    Johann en Theresa Haupt

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.