Om ‘n skool vir jou kind te kies is nie altyd so maklik nie. Ek gaan in hierdie debat ook weer sienings wat ek in vorige debatte gelug het, herhaal. Kyk gerus na voriges soos “Wat is ‘n goeie skool”.

Ek dink ons moet begin by die doel van ‘n skool. Ouers ( en hul kinders ) verskil van ander ouers oor die rede hoekom hul kind skool toe gaan. Wat gaan maak hy of sy daar? Wat wil hy of sy daaruit kry? Gaan hulle maar net skool omdat hulle skoolpligtig is? Tog seker nie.

Nou die vraag  “Wat is ‘n goeie skool?”. Is daar ‘n definisie, beskrywing vir ‘n goeie skool, hoe vergelyk ons skole met mekaar, is daar ‘n telbord?

My beskeie poging tot ‘n definisie/bestaansreg vir ‘n skool is die volgende: “‘n Skool is ‘n plek waar leerders (kinders) geleer word om hul plek in die grootmenswêreld wat hierna kom, vol te staan.” Om “jou plek in die grootmenswêreld vol te staan beteken dat jy ‘n werk het, ‘n bydrae lewer tot die landsekonomie, en dat jy sosiaal aanvaarbaar is, dws goeie maniere het.

As ‘n rugbyspan deur die week oefen vir die wedstryd wat die naweek voorlê dan word daar op die oefenveld situasies geskep wat so na as moontlik is as dit wat in die wedstryd verwag word. Daar word dan inge-oefen hoe om hierdie situasies te hanteer op die verdediging en die aanval. Wanneer daar dan in die wedstryd so iets gebeur is die span voorbereid.

Wanneer skole dan iemand wil voorberei vir die lewe na skool, moet hulle tog seker dieselfde doen. Hulle skep situasies wat in die werklike lewe voorkom, daarom is dissipline en goeie maniere en hardwerkendheid en kennis van jou vakgebied (werk) so belangrik.

Op die “oefenveld” , die jare op skool, kan regstellings gemaak word binne ‘n veilige omgewing.

Ons soek dus ‘n omgewing wat die naaste lyk soos die “grootmenswereld”, die “omgewing daar buite”.

Nou kan elkeen wat hier lees self besluit. Ek vra ‘n paar vrae. Is die omgewing daar buite net ryk mense, net arm mense, almal wit, almal swart, almal Afrikaans, almal van dieselfde geslag? So kan ek aangaan. Is ‘n multi-kulturele en meertalige skool dan jou beste skool? Ek weet nie, besluit self.

Daar het ‘n “Effective Schools Movement” in die VSA ontstaan rondom 1966. Hulle het wetenskaplik probeer bepaal watter faktore of kenmerke kom by alle goeie skole voor. Ek wil nou nie slim of geleerd probeer wees nie, maar dit is die enigste “definisie” (of dan die naaste daaraan) vir ‘n goeie skool, waarvan ek weet.

Voor hierdie beweging was daar ‘n opvatting dat ‘n skool geen invloed het op die vorming van ‘n kind nie, maar dat die ouerhuis al die invloed het.

Ron Edmunds (een van die “Effective School Movement”-ouens) lys in 1982 wat hy noem die “Corrrelates of Effective Schools”. Hy sê alle effektiewe (goeie) skole het die volgende:

• Leierskap van die hoof wat baie aandag gee aan die kwaliteit van die onderwys
• ‘n Onderrigfokus wat almal verstaan
• ‘n Ordelike en veilige omgewing wat ‘n gees van onderrig en leer bevorder
• Onderwysers se gedrag wat bydra tot die verwagting dat van alle leerders ten minste ‘n minimum vlak van bemeestering verwag word
• Die gebruik van meting van leerder prestasies as die basis vir program evaluering

Ron Edmunds het verder gesê:”We can, whenever and wherever we choose, successfully teach all children whose schooling is of interest to us. We already know more than we need to do that whether or not we do it must finally depend on how we feel about the fact that we haven’t so far.”

Die determinante, of dan Eienskappe van ‘n Goeie Skool , is deur “Learning for All” tot die volgende verfyn:
• Onderrig Leierskap
• Duidelike en gefokusste Missie
• Veilige en geordende omgewing
• Klimaat van Hoë Verwagtinge
• Gereelde Monitering van Leerder-vordering
• Positiewe Huis- Skool Verhoudings
• Geleentheid om te leer en leerder “Time on Task”, daar in die skool.

Nou , sommer vir die aspris: Nêrens hierbo is goeie sportspanne of –uitslae genoem as ‘n eienskap van goeie skole nie!

Waarna moet ouers dan kyk in die soeke na ‘n skool vir jou kind ? Watter skool is goed genoeg vir my kind ?!

Na alles wat hier bo gesê is wil ek dit vir u probeer prakties maak. Ons kyk baie kortliks na die volgende ses punte. Die punte is nie in volgorde van belangrikheid nie:

  1. ‘n Skool is ‘n “sosiale entiteit”

Wanneer jy jou kind by ‘n skool inskryf is die ideal dat jy en jou gesin deel word van hierdie sosiale kring. Daar is baie funksies en sportbyeenkomste wat jy hopelik gaan bywoon. Jy gaan dus meng met die personeel, maar meer so, jy en jou kind, gaan vriende maak binne hierdie sosiale groep. Maak dus seker of julle sal “tuis voel” by die skool. Is dit “ons kerk se mense?”.

  • Skool moet jou voorberei vir “die lewe na skool”

Hieroor is hierbo reeds genoeg gesê. Verteenwoordig die leerders en personeel die samelewing daar buite ? Miskien wil jy dit juis anders hê, dan is dit jou saak.

  • Netheid van die skool en sy kampus

Ek kon net sowel geskryf het “daar moet goeie dissipline” wees. ‘n Skoolinspekteur (EDO of wat hulle ookal nou genoem word) het jare gelede vir my gesê as hy by ‘n vreemde skool kom staph y heel eeste by die leerders se toilette in. Dit vertel vir hom ‘n storie van dissipline, trots en respek.

  • Skoolfonds

Natuurlik speel skoolfonds ‘n rol in u keuse. Maak ook seker waarvoor dit aangewend word. Is daar bv. ‘n tartan-baan, maar u kind gaan nooit daar speel nie, of miskien is die hoof se kantoor baie weelderig, so ook die klubhuis, maar daar is nie skadu-plekke pouses vir die leerders nie.

  • Trots Suid-Afrika

Onthou die lewe na skool. Dit gaan, hopelik, in Suid-Afrika wees. Word die SA embleme, lied en vlag, met oortuiging en trots in die skool gebruik ?

  • Top struktuur

Boesem die hoof en sy/haar leierspan by u vertroue in.

Laastens, en ek nommer die een nie, want dit is belangriker, is ek ‘n groot voorstander van moedertaal onderwys. Dit is nie net ek nie ! Alle wetenskaplike studies getuig daarvan.

Die regte skool kan vir almal groot lekkerte gee en herrinneringe wat vir lank by jou sal bly. Sterkte.

TIPS OF WENKE
My wenk vir die week:                                                                       Ouers: Maak seker u weet wat u wil hê u kind moet by die skool kry.
Skole (Hoofde en personeel): Gaan Google die volgende en lees die 10 bladsye: “Revolutionary and Evoltionary: The Effective Schools Movement” Deur: Dr. Lawrence W Lezotte

U kommentaar is baie welkom.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.