“Laat staan jou trots, en vra om verskoning !” Hoe kan jy ooit jou trots laat staan? Hierdie storie gaan oor trots.

As jy trots wil wees op jouself moet jy heel eerste trots wees op jou naam. So het ek geglo, en glo steeds so. Vir my is dissipline en respek en al die mooi dinge wat daarmee gepaard gaan, nog altyd gegrond in trots. Ek wil nie hier daaroor filosofeer nie, ek noem dit slegs om te motiveer hoekom ons met ‘n doelbewuste veldtog begin het om trots en tradisie te bou.

Tot nou toe is my ondervinding van skoolname dat dit maar meestal die dorp se naam is. Ek was self op skool in Laerskool Hartswater en Hoërskool Hartswater, toe Tygerberg Hoërskool in Parow, na die berg vernoem aan die bokant van die skool, en toe weer Hoërskool Keimoes. Nou het ek al skoolgehou by Fakkel in Johannesburg, en Karasburg op Karasburg, Willowmore op Willowmore en nou David Ross op Lady Grey.

Die groter skole was Tygerberg en Fakkel. My persepsie is dus dat “klein en vaal” skooltjies die dorp se naam het, terwyl groter en oordentliker skole ‘n “naam” het. Hier is ek nou op Lady Grey, by ‘n baie klein skooltjie, maar sy naam is nie “Hoërskool Lady Grey” nie, maar wel “Hoërskool David Ross”. Ek steek sommer my bors uit as ek dit weer hardop sê. Tog het dit vir my gevoel niemand op Lady Grey weet dit nie. Ek het gevoel hier kan ons begin om trots te bou. In ‘n naam kan daar baie trots opgesluit lê.

Die skool het bekend gestaan, op die dorp en by al die buurskole, as “Lady Grey Hoërskool. My eerste probleem was om die naam, “David Ross” by die onderwysers te vestig. Hulle het my motivering dat dit baie meer moontlikhede inhou as sommer net “Hoërskool Lady Grey”, aanvaar. “Ja, meneer” het egter nie dadelik oorgegaan in aksie nie. Gewoontes word nie so maklik verander nie.

So gaan ons vir ‘n aand-atletiekbyeenkoms in Burgersdorp. Ons het ‘n hele paar baie goeie atlete gehad.

David Ross het atlete gehad soos Thea en Dawie Naudé, hul jonger boetie, Kobus, het later by gekom. Ook was daar Johan Stapelberg wat hooggespring het en vele ander. In my kop is dit uiters belangrik om die naam “David Ross Hoërskool”, te vestig baie belangrik. Ek wil dit in almal se kele afdruk. Tydens die atletiek op Burgersdorp word kort-kort uitslae oor die mikrofoon gelees. Ons atlete is gereeld tussen die eerste drie. Die aankondiger lees bv. “Dawie Naudé van Lady Grey”. Dit grief my !

Ek vra vir Alwyn Burger, hy was ons atletiekman, of hy die atlete ingeskryf het onder  “David Ross” of “Lady Grey”. Ons het nou al voorheen in die personeelkamer oor die naamkwessie gesels en die personeel weet hoe ek daaroor voel. Alwyn verseker my dat hy hulle ingeskryf het as David Ross. Ek versoek hom toe om vir die aankondiger daarop te gaan wys en hom te vra om asb. bv. eerder te lees “Dawie Naudé van Hoërskool David Ross, Lady Grey”. “Sê hom hy moet sy … in rat kry”, dink ek stilweg.  Alwyn moes drie of vier keer na mekaar na die aankondiger gaan en hom weer daarop wys. Uiteindelik het hy onthou, dalk eerder besef ons is ernstig, en dit van toe af reg aangekondig.

Ons “nuwe” naam het stadig maar seker inslag gevind.Ons het nou ‘n “naam” gehad en ons het  innerlik gevoel ons is beter as ons buurskole wat steeds net Barkly-Oos, Ugie, Maclear, ens. was. Miskien was dit net ek wat so gevoel het, tog het ek my verbeel almal verbonde aan David Ross voel so. Ons was sommer “vorentoe”. Onderwysers en leerders het almal nou geweet dat ons voortaan praat van “David Ross”. Die ouers het vanself ingeskakel. Hierdie eenvoudige ding het ‘n verdere groepsgevoel of spangees gevestig.

Ons moes ook ‘n bietjie tradisie bou. Die oeroue Ds. David Ross na wie die skool vernoem is, se graf is in die dorp se begraafplaas. Ons kon ook uitvind wanneer sy verjaardag was. (Maklik, kyk net die geboortedatum op sy grafsteen!) Daar was ook nog van sy nasate in die omgewing. Ons het dus jaarliks ‘n Stigtingsdag gehou. Die hele skool het gestap na die begraafplaas en rondom die graf bymekaargekom. Hier het die hoofleiers kranse gelê, afstammelinge, van David Ross, is ook genooi om dieselfde te doen, ‘n paar verse is uit die Bybel gelees en daar is ‘n gebed gedoen. Terug by die skool het elke kind ‘n stukkie “verjaardagkoek” gekry en die personeel en eregaste het tee gedrink.

‘n Naam en tradisies is maar twee dinge, van baie meer, wat help om trots te bou. Maryna, my liewe vrou, se oom het altyd gesê “as niemand my laaik nie dan laaik ek myself”. Sonder om wintie te wees moet  elke mens ‘n innerlike trots hê.

Alle goeie mense, en skole, beskik oor innerlike trots. “Jy moet jou trots laat staan”.  Nie maklik nie !

(onthou om ‘n “Follower” te word en kommentaar te lewer asb.)       

2 thoughts on “Trots is in ‘n naam.

  1. Dagsê Mnr Wahl. Ja, was, saam met my vrou, vir 14 jaar personeellede van DAVID ROSS, HOëRSKOOL, Lady Grey. 14 jaar wat,as ek kon, 10 keer oor sal wil beleef. Wat ‘n belewenis om deel te kon wees van Lady Grey se gemeenskap en dit te kon dien as personeellid van DAVID ROSS HOëRSKOOL.

    Baie dankie ook vir die advertensie onder aan u skrywe. Met ons vele omswerwinge sal ons beslis by van die plekke ‘n draai wil maak.

    Like

    1. Nou is ons, Jy en Theresa en Maryna en ek weer van voor af vriende, lekker ! Wens nog van Lady Grey se mense wil van hulle laat weet. Ook ander wat die stories geniet, al speel hulle nie ‘n “rol” daarin nie,

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.