Hierdie storie gaan steeds oor “die bou/skep van ‘n naam” wat dan tradisies en gebruike behels. Hierdie “naam-bou” sluit dan in skoolwapen, skooldrag, leuses, ens. Wanneer word ‘n gebruik ‘n tradisie en wanneer word ‘n “voorkeur” ‘n beginsel ? … seker nie nou heeltemal ter sprake nie, maar goed om daaroor te dink.

Nou die storie: David Ross se skoolgebou was ‘n tipiese sandsteengebou soos wat ‘n mens baie in daardie deel van die wêreld, Lady Grey, kry. Aan die voorkant van die hoof-ingang was daar ‘n ringmuur, ook van sandsteen, met roosbome daaragter en in die middel ‘n vlagpaal met ‘n klein grasperkie langsaan. Hier het ons begin met vlaghys-seremonies, ons wil tradisies vestig ter wille van trots/naam bou. Daardie jare het ons nog Republiekdag gevier op 31 Mei.  Daar was ook kadette in uniform en ‘n kadetorkes met instrumente, dit alles het die “feesreëlings soveel makliker gemaak. Al was daar nie ‘n “Republiekdag” nie sou ons iets anders gekry het om te vier. Dit is mos lekker om iets te vier, partytjie te hou. Ek hou daarvan.

Op ‘n stadium het die vlagpaal se onderstuk, ook van die sandsteen gebou, begin verweerd lyk. Die sement messelwerk tussen die stene het los gekom. Ons besluit toe om dit af te breek en oor te bou. Henna Botha, onderwyseres, kom toe met ‘n baie blink gedagte. Sy stel voor ons koppel die bouery aan die Stigtingsdag van die skool, en almal wat daardie dag in die skool is plaas hul handtekeninge op papier. Dit kom binne in ‘n bottel en word onder aan die vlagpaal ingebou sodat dit eendag weer maklik herwin kan word. Die “eendag” moes seker oor tien, twintig of dertig jaar wees. Ek glo nie dit is ooit oopgemaak nie. Almal het vergeet. Dit maak nie saak nie, die van ons wat daardie dag deel daarvan was, was baie opgewonde.

Nog ‘n gebruik wat ingestel is was die lui van die klok. Ek dink jy stel ‘n “gebruik” in met die hoop dat dit ‘n “tradisie” sal word. By die hoofingang van die skool was daar ‘n kloktoring. Daar was ‘n groot klok soos ‘n kerk-klok bo in die toring. (dit is nou nog daar, want die geboue bestaan steeds) Op een of ander wyse het ons die klok weer in ‘n werkende toestand gekry. Dit is platteland, dit is “boer-wêreld”, iemand het ‘n plan gemaak. Daarna was dit gebruik dat die dag wanneer die skool vir ‘n vakansie sluit die hoofseun die klok lui. Dit kondig die aanbreek van die vakansie aan.

Ons het, soos die gebruik toe was,… Laat ek myself hier in die rede val. Daardie jare het die skool gesluit op ‘n spesifieke dag wat so op die almanak  aangeteken was.  Dit beteken, dat al was die eksamen verby het alle leerders steeds getrou skool bygewoon tot en met die dag van skoolsluiting. Die kersie op die koek, wat baie in vandag se dae nie sal glo nie, is dat almal produktief besig gehou is.

Nou, waar was ek ?… Skoolsluiting by David Ross Hoërskool. Op die laaste dag van ‘n kwartaal is die afsluiting in die saal gehou.(onthou almal was aanwesig !) Wanneer ons aan die einde die skoollied klaar gesing het moes almal net so bly staan. Die hoofseun het nou die klok gaan lui terwyl almal tjoepstil staan en luister. Na die klok gelui het kon die kinders, sonder enige verdere aankondiging  die saal verlaat en huistoe gaan.

‘n Naam, vlae, seremonies, hooggeplaastes, partytjie, sonder dit sal die lewe wees soos ‘n man sonder ‘n vrou, en ‘n vrou sonder inkopies om te doen, en ‘n oupa sonder …. sy pyp!

So kom ek heelwat jare later by Andrew Rabie in Port Elizabeth. Dit raak 1994 en die “nuwe Suid-Afrika” is op ons. Hiermee saam ‘n nuwe landsvlag en volkslied. Ek kry dadelik ‘n nuwe landsvlag en ontwerp ‘n skoolvlag. Riana Mattheus, naaldwerk juffrou, het die skoolvlag gemaak. Die twee vlae word Maandagoggende ingedra tydens die saalperiode. Terwyl die vlae inkom moet al die kinders op aandag staan. Die “nuwe SA” was vir sommige mense moeiliker om te aanvaar as vir ander. Die skool was toe ook besig om “leerders van kleur” in te kry.

‘n Ouer, ‘n pa, kom my baie formeel in die kantoor spreek, afspraak gemaak, alles. Nadat ons klaar oor die weer gesels het en oor Saterdag se rugby, kom hy by die punt. Hy weier dat sy kind op aandag staan vir die nuwe landsvlag wat lyk soos ‘n krismisboom …. “al die uitspattige kleure.” Ek sê ek aanvaar dit en het nie ‘n probleem  daarmee nie, “maar sal jy omgee as jou kind op aandag staan vir ons skoolvlag ?”. Nee, sê hy as hulle daarvoor moet staan gee hy nie om nie. Probleem opgelos. Toe kom die pa agter dat ek hom met ‘n slap riem gevang het, die vlae word mos gelyktydig ingedra. Sy kommentaar, “jou bôgger!”. Ons het altwee net gelag.

Klein dingetjies kan groot verskille maak, soos amper mis of amper raak.

(onthou om ‘n “Follower” te word, regs in onderste hoek, en kommentaar te lewer asb.)    

2 thoughts on “Tradisie:- ? .. en die Wêreld verander.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.