“Martin, ek skuld jou vier houe se sondes.”

In hierdie storie dink ek aan die verskillende soorte kinders met wie my pad gekruis het. Kinders kan nie groepeer word in soort by soort nie, wat ek eintlik bedoel is dat elke kind ‘n “eie-soort” is. Inividu .. uniek in eie reg. Wat ‘n voorreg. Ek kan slegs ‘n paar se stories vertel, maar bring graag hulde en groot dank aan almal met wie ek ooit te doen gehad het. Ons het by David Ross op Lady Grey,  ‘n dringende “te kort” aan hoërskoolkinders gehad, daarom gaan ek daar begin. Die gevalle wat ek noem is slegs my “voorbeelde’. Hopelik sal die leser ook sulke kinders ken.

Martin Rossouw was een van die kinders wat ons, kom ons sê maar “gewerf” het,  uit Johannesburg. Sy hele gesin, hulle was nogal ‘n heel paar en daarom ‘n groot aanwins vir ons, het in een van die plaashuise ingetrek. Daar was nie ‘n pa nie, net ‘n ma. Martin het in die koshuis gebly.

Martin het na standerd agt uit die skool gegaan en gaan werk. Dit was in sy “vorige lewe”. Hy het vir ‘n jaar gewerk en toe ons advertensie, waar ons kinders werf,  gesien en gevra hy wil graag Matriek slaag. Dit was nou reeds in die middel van ‘n volgende jaar. Hy was nou ouer  as die gemiddelde skoolkind en moes in die helfte van die jaar met standerd nege begin. Na baie gesprekke en voorwaardes van ons kant af het ons hom toegelaat.

Hierdie seun, dis nou Martin, was lank en aantreklik met ‘n goeie humorsin en mooi maniere. Hy was van die soort wat almal van gehou het. Martin was nie ‘n engeltjie nie en was taamlik gereeld in my kantoor. Hy het veral ‘n probleem gehad om die rookgewoonte in privaatheid te onderhou.

Daar word toe ‘n nuwe juffrou aangestel. Sy woon in in die koshuis en doen daar diens. Martin is een middag in studietyd, en hy was nou in Matriek, in die dorp. Toe ek hom die volgende dag daarna uitvra, die koshuisvader was by, steek hy vas. Dit is asof ons niks uit hom kry nie. Na baie oorreding en dreig van ons af kom hy uit met ‘n snaakse storie. Hy vertel dat die juffrou by hom aanlê en hom gereeld “stuur”. Hy het al geweier dan dreig sy om hom te verkla. “Ek weet nie meer wat om te maak nie, meneer.”

Ek het onmiddellik gedink hy weet dalk nie wat om te doen nie, maar ek weet. Hoe kan ‘n skoolkind ‘n juffrou beskuldig van so iets en dit om sy eie bas te red ? Ek het vir Martin gesê dat hy dit moet terugtrek. Hy het geweier. Die uiteinde was dat ek hom ‘n oordentlike pak slae gegee het. Ek het die juffrou nooit ingeroep om vir haar te vra hoekom stuur sy vir Martin wat in Matriek is, in studietyd nie.

Daarna was daar nog hier en daar gevalle waar Martin rondloop wanneer hy nie moet nie. Sy verskoning is telkens dat die juffrou hom gestuur het. Die juffrou het nie lank gehou nie  en toe sy weg is het van die koshuis seuns aan my kom vertel hoe sy openlik by Martin aangelê het. Ek het navraag gedoen by ander koshuispersoneel. Hulle het dit beaam , maar ook nie geweet hoe om dit te hanteer nie en dus gemaak of hulle dit nie sien nie.

Ek het Martin ingeroep en vir hom gesê dat ek hom beskuldig het dat hy jok. Dit is nou duidelik dat hy die waarheid gepraat het. “Martin, ek vra om verskoning, ek gaan nie buk dat jy my pak gee nie, maar ek skuld jou vier houe se sonde.” Hy het my verskoning aanvaar en gesê dat hy verstaan. Martin het daarna nooit weer gesondig nie. Ek skuld hom steeds vier houe se sonde.

Martin het Matriek goed geslaag en by Hugenote Kollege op Wellington gekwalifiseer as ‘n maatskaplike werker. Hy was daar die hoofstudent. Sover ek weet is hy nou ‘n sakeman êrens in Limpopo. Sukses.

Op Lady Grey was daar ook die Schlebusch-meisiekinders, ses van hulle. Daar was geen tweelinge onder hulle nie. Ook nie enige ander meerlinge nie. Hulle het saam met Fanie, die dorp se slagter en hul pa, en Dorothy, ‘n klinieksuster, die ma, op ‘n plaas net buite die dorp gebly.

Nancy was die oudste en dan Susan (nie Susan nie, maar wel “Soesen”) net ‘n jaar jonger en so die res. Toe Nancy haar bestuurderslisensie kry het Dorothy hulle nie meer skooltoe gebring nie. Nancy het die rooi Toyota kombi bestuur. So het hulle met die rooi kombi skooltoe gekom tot die jongste uit die skool is. Soos een uit gaan het die volgende een lisensie gekry. Nancy is ook die een wat my gehelp het om Wiskunde vir Matriek te gee. Byna almal van hulle het hoofmeisie geword en Matriek met ‘n gemiddelde A-simbool geslaag.

Op grond van sy ‘bewyse” gekry uit die Schlebusch-familie, het Piet (Bek) Naudé geglo dat jy kan sien of ma op pa se kop sit of andersom. As dit ma is het hulle meer dogters.

Op Walvisbaai was daar Carmen Esterhuizen. Sy was ‘n regte dame. Toe sy in Matriek was, was sy die onderhoofmeisie. Carmen kom eendag, net na pouse, by my in die kantoor. Toe ek vra wat is fout kon ek duidelik sien dat sy baie ontsteld is. Sy kry dit nie reg om vir my te vertel wat gebeur het nie. Na groot oortuiging en aanmoediging van my kant kry sy dit uiteindelik uit. “Meneer, Chopper het my in my binneboud geknyp toe hy by my by die trappe verby loop.” Nou is Carmen in trane.

Chopper was die seun van die RSM (Regiment Sersant-Majoor), onthou Walvisbaai was destyds net Weermag. Goddeloos, die Chopper. Ek roep hom in nadat ek en Carmen klaar gesels het en sy uit is. Sy wil nie hê daar moet gestraf word nie, dit moet net nie weer gebeur nie. Chopper: “Ek het net ‘n grap gemaak, meneer. Dit was ook nie in haar binneboud nie. Dit was net bokant haar knie. My hand was nie eers onder haar rok in nie. Regtig meneer.” Carmen was net te veel van ‘n dame om so iets as ‘n grap te sien. Chopper het verstaan.

By Andrew Rabie, Port Elizabeth, het ons jaarliks, die eerste naweek van die jaar, ‘n standerd-ses kamp. Ons gaan na ‘n plek op die wal van ‘n rivier. Ek en die Graad-hoof van die Graad agts is in bevel. Die register-onderwysers gaan ook saam. Hulle maak kos. Een van die hoogtepunte is “waterkaskenades”. Die leerlingraad smeer die standerd sessies met meel, eier en modder. Daarna spoel hulle in die rivier af en maak skoon in die swembad en dan gaan stort hulle. Sommige se hare was steeds nie skoon nie.

Met die swemmery in die rivier het die seuns grasse uit die modder getrek en mekaar daarmee begin gooi. Die een outjie kry toe ‘n bol modder en gras reg op sy oog en dit gaan in sy oog in, letterlik, wel tussen die oog en die onderste lid. Ek skrik toe ek dit sien en wil dadelik dokter toe. Die onderhoofseun, Hein Neil, sê “wag, meneer, ek sal dit skoonmaak.” Ek sê vir hom dat ek nie dink hy kan dit waag nie. Hy en die hoofseun, Robert van Rooyen, oortuig my dat hy weet wat hy doen.

Hein het die outjie in die stort en hy het ‘n “tweezer” by hom. So ver hy gaan vertel hy vir die “pasiënt” presies wat hy doen en gaan doen. Hy is so kalm en kalmerend. Selfs ek begin kalm raak. Hy het die oog onder oopgetrek en met die “tweezer” keer op keer modder en gras onder die oog uitgehaal. Niks het hom afgesit nie. Die hele tyd het hy baie kalm met die pasiënt gesels. Aan die einde het hy die oog goed uitgespoel en oogdruppels ingegooi. Die aand het die “pasiënt” aan die “Sottekonsert” deelgeneem. Hein was daardie dag kalmer en beter as ek en hy het my uit ‘n groot verknorsing gered. Die “pasiënt” het niks daarvan oorgehou nie.

Die laaste kind wat ek hier na wil verwys is Hilgard Ackerman. Sy oupa was ‘n onderwyser by Anrew Rabie, vroeër jare, sy pa was hoofseun en sy ouer suster was “in my tyd” hoofdogter. Hilgard het ‘n stamboom wat skrik vir niks. Hilgard het gehakkel. Hy word toe gekies as hoofseun.

Kinders kan baie wreed wees. Ek was bang, ek dink baie van die ander onderwysers ook, dat hulle Hilgard gaan spot as hy ‘n toespraak moet maak. Hilgard was ook die vaskop-voorry van die eerste rugbyspan. Dit was ‘n baie goeie en sterk span. Ek roep hom toe in. Hy moet môre sy “intreepreek” lewer. Hulle kry hul spelde voor die hele skool en dan moet die hoofleiers iets sê.

Ek het met Hilgard oor sy hakkel-probleem gesels. Vir hom gevra hoe hy voel oor die toespraak wat hy moet lewer. Hy was gereed en sien uit daarna. Ek het gesê “Hilgard, jy hakkel al vandat jy vier jaar gelede in die skool in standerd ses gekom het. Die kinders ken jou met jou hakkel. Hulle het jou gekies. Hulle wil nie nou ‘n Hilgard hoor wat probeer om nie te hakkel nie.” “Dankie meneer, moenie “worry” nie, ek is ontspanne.”

Dit het goed gegaan. Hy het selfs minder gehakkel as normaalweg. Hilgard was ‘n uitstekende hoofseun wat nie net toesprake gemaak het nie. By hulle Matriek-afskeid het ek verplig gevoel om na hom as volg te verwys: “Ek het baie hoofseuns geken, daar was baie, en toe was daar Hilgard Ackerman.”

Soms wil ‘n mens huil ……  van dankbaarheid dat jy al hierdie herhinneringe het. Dêmmit !

2 thoughts on “Die groot voorreg om onderwyser te wees.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.