Aan die begin ‘n paar verduidelikings. Destyds het kinders in die noordelike provinsies, die ou Transvaal, op ses-jarige ouderdom in graad 1 begin skoolgaan. So was daar ‘n graad 1 en graad 2, daarna was hulle in standerd 1 tot op 18-jarige ouderdom in standerd 10. In die ou Kaapprovinsie het hulle in Substanderd (afgekort na Sub) A en -B begin en dan gevorder na standerd 1 tot 10. Vandag het dit alles verander en begin hulle in graad R, daar is ook ‘n graad 0. Die ou Sub.A is nou Graad 1 en standerd 10 is Graad 12.

As ek van die “klein volk” wil praat bedoel ek die in hul eerste drie skooljare, nie voor-skool of kleuterskool nie. Regte skool. Ek praat van die wat ses jaar oud is tot agtjarige ouderdom. Sommige het hulle ook stofpoepertjies genoem. Hulle is so laag bo die grond. As hulle ‘n windjie los ….. Na inflasie is dit dus die in graad 1 tot graad 3. Gelukkig het “hulle” nie aan die kinders se ouderdomme ook verander nie.

‘n Laaste opmerking: Ek sien myself as ‘n hoërskool-onderwyser, d.w.s. graad 8 tot 12. Ek het ‘n paar stories oor die kleintjies, hoe moeilik dit vir hulle in die koshuis is, hoe hulle maats maak en dan ook oor hul erg betrokke mammas. Ek beloof ook dat ek daarteen sal waak om nie van “mammatjie’s, speelgoedjies, tee’tjies”, ens. te praat nie.

Ek begin maar weer op Karasburg, waar Maryna en ek ingewoon het in die koshuis en later koshuis-ouers geword het. Hierdie skool en die koshuise, was van Sub.A tot Standerd 10. Ouers het maklik 80 Km uit die dorp gebly en dit was moeilik om elke naweek hul kinders te kom haal. Daar was dus twee uitnaweke per kwartaal wanneer die koshuis leeg was. Plaasskole was daar nie. Kinders moes dus koshuis toe kom van Sub A af. Net ses jaar oud en uit die huis!

So was daar die een outjie wie se ouers hom elke Vrydagmiddag kom haal het en Sondagmiddag of Maandagoggend weer teruggebring het. Hy het verskriklik moeilik aangepas in die koshuis. Deur die week raak hy tuis en maak maats en speel lekker saam met hulle in die koshuis. Vrydag kom vat sy ouers hom. Hy huil, want hy wil nie van sy maats af weg gaan nie. Sondagmiddag kom laai hulle hom weer af by die koshuis en hy huil weer, want hy wil nie sy ouers los nie.

Ek vra toe vir die ouers hoekom vat hulle hom elke naweek huistoe. Hulle het gedink dit sal die aanpassing makliker maak, “ons sal hom later langer tye los, meneer.” Dit het dit juis moeiliker gemaak. Ek praat hulle toe om om die mannetjie net uitnaweke te kom haal. Sy maters bly ook die ander naweke in en hulle speel tog te lekker. Die knaap het dit maklik hanteer, vir die ma (en die pa) was dit heelwat moeiliker.

In Karasburg se seunskoshuis was daar twee kamers met seuns in Sub A tot st.1. Daar was so rondom twaalf van hulle. Ons moes sorg dat hulle nie hul beddens natmaak nie. Piepie, ja. Die beddens het nie van hierdie plastiekerige “lappe” wat die matras moet beskerm, onder die lakens gehad nie. Die wastannie wou ook nie ongereeld en kort-kort lakens wat na piepie ruik was nie.

Aandete in ‘n koshuis is voor die hoenders gaan slaap. Ses uur. Winter en Somer. Hierdie kleinvolk was net na sewe saans in die bed. Ons moes hulle een-vir-een om tienuur elke aand wakker maak en toilet toe neem. Teen daardie tyd het hul water al gesak. Dit was die teorie. Die koshuis het so ‘n lang geut onder op die vloer van die badkamer gehad, die “krip” genoem. Seuns en mans water in ‘n krip. Vandag sien ons nie meer sulke krippe nie, net urinale.

Die mannetjies was altyd nog eintlik aan die slaap. Jy begelei hom badkamer toe, tel hom op by die trappie voor die krip waarop hy moet staan. Nou staan jy reg agter hom en haal sy tottermannetjie uit, as jy hom kan kry. Hulle, die seuntjies,  is klein en in die winter is dit koud. Dan staan jy met sy tottermannetjie in jou hand, doodstil, totdat daar ‘n bietjie water uitkom, dan wag jy tot daar niks meer uitkom nie. Sit alles terug en gaan sit hom in die bed en bring die volgende outjie.

Een aand staan ek so vas agter die outjie by die krip. Saam met sy water los hy ook ‘n windjie wat reguit op kom tot in my neus. Die windjie het saam met ‘n geluidjie gekom. Die mannetjie is vas aan die slaap en sê “hallo mamma”. Dit was ‘n fynetjie.

My derde storie oor kleinvolk op Karasburg het ‘n ouderdomsbeperking. Dit is nie vir sesjariges nie. Hierdie klasse se skool kom in die middae vroeër uit as die res van die skool. Hulle is dus ‘n uur of wat voor die res van ons by die koshuis en speel dan daar rond voordat almal saam eet. Ek het een dag ook voor die tyd koshuis toe geloop en toe sien ek iets wat ek nie wou sien nie.

Teen die eetsaal se muur sit daar twee kleinvolk saam met een van die volwasse mans wat in die kombuis werk. Hulle sit plat op die grond, rustig agteroor en leun teen die muur. Hulle drie sit en drink aan ‘n kwart bottel bier. Die bottel word van die een na die ander aangegee en so vat elkeen ‘n sluk. Hulle gesels lekker. Ek kon nie hoor waaroor nie, maar ek glo nie dit was oor die politiek of wêreld-ekonomie nie. Daar was gelukkig ook nie ‘n sigaret of sigaar in die ronde nie.

Ek het die twee seuns kamer toe gestuur en die “amptenaar” voor stok gekry. Hy erken dat hy die bier gaan koop het en ja, hy besef dat hy dit nie vir die kinders moes aanbied nie. Hyself het natuurlik ook in werkstyd gedrink. Die senior man in die kombuis is teen die tyd al by en het die hele storie gevolg. Hy neem nou oor, hy sê vir my dat hy die man sal straf, ek kan dit maar aan hom oor laat.

Hy het die man in die kombuis in geneem. Die ander werkers het hom oor ‘n kas platgetrek en daar het hy ‘n pakslae soos min gekry. Afgehandel. Geen haan het ooit weer daarna gekraai nie.

Dan was daar die outjie wat so verskriklik bang was. Hy was ook baie klein. Senuagtig … altyd. Hy het altyd so half terug gedruk in ‘n hoek teen die muur. Ek het eendag ‘n boodskap vir hom, van sy ouers af. Ek kry hom op die speelgrond. Ek sê toe vir hom hy moet in die kantoor vir my gaan wag. Toe ek later in die kantoor kom is daar niemand nie.

Toe ek onder die lessenaar in loer sit hy daar, heel agter teen die muur en bewe soos ‘n riet. Dit lyk kompleet soos een van hierdie groot harerige spinnekoppe. Net arms en bene. Ek moet hom behoorlik daar uit trek. Hy huil en gil en kan nie praat nie. Uiteindelik kalmeer hy ‘n bietjie. Hy het gedink dat omdat hy kantoor toe moes gaan hy ‘n pakslae gaan kry.

By David Ross op Lady Grey kom ‘n Sub A mannetjie in my kantoor in na een pouse. Hy is ongelukkig. ‘n Groter seun boelie hom in die rye. Ek vra uit en hy beduie. Die boelie staan altyd agter hom en skiet sy ore en trek sy hare. “Elke keer as ons in die rye staan, meneer”, huil hy. Ek beduie baie mooi dat as ek nou vir Boelie inroep en hom ‘n pak gee gaan dit net erger raak.

“Jy moet dit self stop”, sê ek. En nou kom ek met my plan. Volgende keer in die rye maak jy seker dat dit hy is wat agter jou staan. Jy moet al jou krag bymekaar maak. Niemand mag iets agterkom nie. Jy moet net skielik en onverwags omswaai en hom met al die krag wat jy het vol op die neus slaan. Ek beklemtoon dat hy hard en raak moet slaan. Hy moet daarna kan spog dat hy die outjie bloedneus geslaan het. Daarna sal hulle altwee kantoor toe gestuur word en dan gaan ek hom ook pak gee. Hy moet daar, in die rye, wen. “Reg so?” “Ja dankie meneer”. En opgewonde loop hy uit die kantoor.

Ek het geweet hy sou dit nooit waag nie, maar dit het hom beter laat voel.

Dan is daar natuurlik ook die kleinvolk se moeders. As skoolhoof het jy ernstige probleme met graad agt-kinders se ouers wat hoogs ontsteld is oor die wrede dopery by die skool. Terwyl ek so ‘n geval aan ‘n ouer probeer verduidelik storm daar ‘n ma van ‘n Sub.A- kind in. “Meneer, ek het gister vir my kind ‘n nuwe uitveer gekoop. Kyk hoe lyk hy nou. (Sy hou nou twee stukke uitveer in die lug). ‘n Skermunkel het dit stukkend gebyt. Ek koop nie weer ‘n nuwe nie. Jy sal sorg dat hierdie uitveer reg kom.!”

Ek sien myself as ‘n hoërskool-onderwyser, maar het die kleintjies baie geniet.

Ouers is lief vir hul kinders……

Dit sal baie gaaf wees as jy klik op “Follower”.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.