Prof. Chimpey Cawood het op ‘n Olos-beginner-hoofde-kursus eenkeer gesê: sodra jy tevrede terugsit “big fat and happy” die “paw-paw gaan nou die “fan” slaan”.

David Ross, ons is steeds op Lady Grey, se hele kampus is teen ‘n berg uitgelê. Daar is drie “plat” vlakke. Die tuin voor die skool begin teen die hoofstraat. Dit saam met die skool geboue is op een gelyk terras. Direk agter die skool styg die terrein skerp. Dan volg die rugbyveld weer op sy eie terras en dan weer ‘n skerp styging met die koshuis bokant dit. Die rugbyveld was aan die koshuiskant uitgegrawe en aan die skoolkant opgevul om ‘n gelyk terras te vorm. Amper soos jy ‘n groot trap uit die berg sal sny.

Op ‘n stadium besluit ons, ons wil ‘n standaard atletiekbaan van 400 meter rondom hierdie rugbyveld hê. David Ross was bekend vir sy goeie atlete. Hiervoor was hoofsaaklik Alwyn Burger verantwoordelik. Ons kon nie eintlik ‘n tuisbyeenkoms aanbied nie, want ons het nie ‘n atletiekbaan nie. Boonop het almal dan bane, hoekom nie ons ook nie? Ons was teen die tyd moeg vir die skougronde wat nie regtig geriewe gehad het nie.

Die skougronde het ‘n sinkskuur gehad, die sogenaamde saal. Daar was ook toilette, maar meer gepas vir manlike boere as vir dogters-atlete.

In hierdie tyd kom ons weer met sport op McClear. Hul hoof wys my die swembad wat hulle gebou het. “Op ‘n Rand-vir-Rand basis”, sê hy. Vir elke Rand wat die skool gee, gee die KOD (Kaapse Onderwysdepartement) ook ‘n Rand vir so ‘n projek.

Ek is die ene ore en baie opgewonde oor die Rand-vir-Rand-projek en vertel die storie aan Tjaart Vorster en Niel Marais, twee skoolkomitee-lede. Die twee van hulle is ook “doeners”. Hulle is net so opgewonde, want hier kan ons die atletiekbaan kry en die skool kan ‘n hele klomp geld maak.

Ons beplanning werk so: Die boere, ouers, gaan die werk vir ons doen.Ons gaan hulle betaal. Onthou vir elke Rand wat die skool betaal gee die KOD ook ‘n Rand. Ons eis dus letterlik elke Rand wat ons uitgee weer van die KOD terug. Die ouers sou die werk aanvanklik verniet doen en sou hul betaling seker weer skenk as ‘n donasie. Op die end was dit presies wat gebeur het.

Nou begin Niel, Tjaart en ek ernstig beplan aan die atletiekbaan. Ek het die presiese afmetings en moet seker maak dat die baan sal inpas in ons spasie. Onthou dit is teen die berg en spasie is erg beperk. Amper soos in ‘n man se motorhuis waar sy vrou ou tydskrifte en “ander belangrike goed wat ons binnekort gaan nodig kry” opgaar. Wanneer jy dit dan nodig kry is dit makliker om dit te gaan koop as om dit in die motorhuis te soek.

Ons meet en gaan tekere. Die vaste punte is die twee rugbypale. Met die hulp van Pythagoras en my Wiskunde-leerders het ons halfsirkels uitgewerk vir die twee kopkante. Ons sal agter die een rugbypaal, teen die berg, ‘n bietjie moet “in sny”. Uiteindelik is ons seker dat die baan sal pas.

Die hele rugbyveld word nou breër gemaak en op die verste punte van die draaie, agter die rugbypale, ook heelwat langer gemaak. Die breedte is nie ‘n probleem nie. Dit wat ons uitsny onder die koshuiskant sit ons in bokant die skool. Aan die koshuiskant sal ons die uitgrawings met beton-trappe stut wat dan sommer sal dien as ‘n paviljoen.

Die langer word aan die pad se kant is glad nie ‘n probleem nie. Daar is genoeg spasie. Aan die ander kopkant, teen die berg, sal die teerpaadjie, voetpad vir die koshuisleerders om by die skool te kom, tussen die koshuis en skool dalk moet skuif. Dit is nie so ‘n groot probleem nie en kan gedoen word.

In hierdie tyd was Niel, Tjaart en ek amper gedurig “in vergadering”. Ons het dit van alle kante bespreek en het toe ons planne aan die volle skoolkomitee voorgelê. Dit word goedgekeur. Die werk kan begin.

Die ouers kom met hul trekkers en skroppe. Johan Fouché en Piet Naudé was van die ouers wat baie gehelp het. Niel en Tjaart was voltyds op die terrein met hul werksmense en implemente. Ek sit in die kantoor of gee Wiskunde, maar kan my nuuskierigheid nie hou nie en is kort-kort op die rugbyveld. Dinge vorder goed en loop mooi. Toe kom dit….. “big fat and happy …”.

Niel en Tjaart kom by my in en sê, “Ons het verkeerd gemeet. Die baan pas nie.” Onmoontlik. Kans vir omdraai is verby. Die wêreld was teen hierdie tyd goed omgedolwe. Dit blyk toe dat die probleem aan die pad se kant is. Daar waar ons gedink het baie spasie is en nie regtig gemeet het nie.

Daar loop ‘n stormwater-sloot tussen die doodlyn en die grensdraad teen die pad. Die sloot is ongeveer een meter breed en twee meter diep. Die sloot is in die pad van die draai van die atletiekbaan. Die sloot is noodsaaklik. Wanneer dit reën en sneeu in die winter is daar baie water wat deur die sloot afgevoer word. Die baan se draai is ook noodsaaklik. Dit moet ‘n standaard baan van 400 meter wees.  Wat nou?

Uiteindelik besluit ons daar is net een manier om oor ‘n sloot te kom en dit is met ‘n brug. Ons gaan eenvoudig ‘n betonblad bo-oor die sloot sit. Dit word redelik laag ingesit sodat daar ‘n dik laag gruis bo-oor kan kom. Ons kan mos nie met spykerskoene op sement hardloop nie. Ons moes natuurlik twee sulke brûe bou. Die baan draai mos weer terug ook.

Daar was natuurlik ook baie ander kleiner probleme. Die ouers was so oorgehaal en gemotiveerd om hiervan ‘n sukses te maak dat niks hulle gekeer het nie. Uiteindelik was die baan klaar. Een groot sukses. Boonop was daar ook nou geld in die skool se bankrekening. Nou kon ons tuisbyeenkomste aanbied en ons het die koshuis met al sy geriewe byderhand.

By baie skole word daar sulke “bouprojekte” aangepak. Soms juis as daar ‘n nuwe skoolhoof kom, want hy “wil darem sy merk maak.” Sommige mense sê dikwels dat klein skole (ek hou nie van skooltjie nie, onthou) gebruik word as “steppingstones” om verder te kan gaan. Dit is nou deur byvoorbeeld ‘n hoof wat ‘n pos daar aanvaar. Ek gaan in ‘n volgende storie daarby kom. Die “merk” wat gemaak word laat my nou daaraan dink.

Enige mens maak ‘n merk, sorg dat dit ‘n skoon merk is wat lekker ruik en nie ‘n vuile wat sleg ruik nie.

2 thoughts on “Ons bou atletiekbaan.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.