Verlede week het ons gesê “geseënd is die onderwysers” wat oor die volgende eienskappe beskik:

  1. Geroepenheid vir die onderwys
  2. Volwassenheid
  3. Betoon respek teenoor elke leerder.

Met hierdie eienskappe deel van jou arsenaal behoort goeie dissipline eintlik vanself te kom.

Vandeesweek gaan ons voort met die onderwerp en wil ek graag klem lê op die feit dat dissipline en konflik/baklei nie sinonieme is nie. Met die genoemde drie eienskappe hier bo kan jy die baklei uitskakel. Ter inleiding wil ek twee praktiese voorbeelde noem:

  1. Kind (‘skuus, leerder) kom in die klas en sy/haar huiswerk is nie gedoen nie. Eerste reaksie van onderwyser is om te raas en beledig en dan te straf. Oortredings moet gestraf word. Wat is die straf? Skryf uit of doen twee ekstra oefeninge of soortgelyke skriftelike werk wat môre ingehandig moet word. Nou handig hy dit nie môre in nie, wat nou? Straf jy hom nou erger? Die tweede reaksie, wat my betref die beter een, is as volg: Die belangrike is dat die leerder ‘n spesifieke stuk werk moet afhandel. Laat hom pouse inkom en dit dan doen. Dan het jy die werk en kan hom ‘n punt gee. Hy daag nie pouse op nie? Kyk waar is hy die volgende dag net voor pouse en reël met daardie onderwyser om hom daar te kry. Pouse verby, saak afgehandel, gaan aan met belangriker dinge.
  2.  Seuns die afgelope week gewaarsku oor lang hare. Vanoggend daag ‘n stuk of tien op wat lyk soos Nataniël. (ek wou eers sê Yul Brunner, maar te veel lesers is te jonk om hom te ken.) Eerste reaksie, konflik! Hulle kom in opstand, ons moet hulle ‘n ding wys. Roep hul ouers in en lees almal behoorlik die leviete voor. Dit kan selfs ‘n week aanhou, en as jy gelukkig is haal jy nog die koerant ook! Hierdie seuns het vir moeilikheid gesoek en kry sal hulle dit. Wat hulle wel gesoek het is aandag en met hierdie reaksie is dit presies wat hulle kry. Tweede reaksie. Wat sê die skoolreëls i.v.m. seuns se hare? Dit mag nie oor die ore hang nie, ook nie oor die oë nie, dit moet netjies wees. Nataniël het nie een van hierdie reëls oortree nie. Ignoreer hulle en hou hulle onderlangs dop en kyk hoe teleurgesteld is hulle. Geen spanning, geen probleem, net ‘n plesier.

Jy, as onderwyser is baas in jou klaskamer. Daar is nie ‘n hoof of ouers teenwoordig nie. Hulle kan jou nie help met die onmiddellike dissiplinêre probleme nie. Jy is daarvoor verantwoordelik en niemand anders nie. “Ouers stel nie belang nie en die hoof gee nie ondersteuning nie. Klasse is ontsettend groot.” Al hierdie goed is waar en ja, dit dra by tot jou dissipline-probleme. Ongelukkig is dit ook so dat ons al vir eeue oor hierdie goed kla en dit het (en sal) nie verander nie. Jou buurman langs jou se dissipline is goed. Hy het beheer en is “baas” in sy klas. Doen dieselfde. Ek weet wat jy so pas gelees het veroorsaak dat jy my haat. Met reg. Ek is jammer. Feit is dat jy nie beheer het oor buite faktore soos ouers en die hoof nie, maar jy het beheer oor jou optrede in die klas.

Met bg. twee voorbeelde het die tipiese gebeur, nl. oorvereenvoudiging. Die debat gaan voort.

Indien ons dissipline wil verbeter is een van die dinge wat ons moet doen om kernwaardes van die leerders (ongelukkig ook in sommige gevalle van onderwysers) te verbeter. Met kernwaardes bedoel ek al die mooi goed soos integriteit, hardwerkendheid, respek vir reëls ens.

In “Die Burger” van 14 Junie 2014 het prof. Jeanette De Klerk-Luttig ‘n waardevolle artikel oor die jeug se waardes gepubliseer. Sy skryf: “Sodat kinders hulle op ‘n dieper vlak tot kernwaardes verbind moet die volgende gebeur:”

  1. “Hulle vereenselwig hulle met betekenisvolle ander wat die waardes uitleef” Sy sê ‘n onderwyser (enigiemand anders ook) se voorbeeld het ‘n baie groter invloed op kinders as dit wat jy sê. Ons as onderwysers moet dus dieselfde waardes hê en dit moet gesien word in die manier wat ons optree, veral ook teenoor ons leerders tydens dissipline-toepassing.
  2. “Kinders en jong mense het dus talle positiewe morele modelle nodig wat kernwaardes uitleef.” Sy verwys na sportsterre, sangers, TV-sterre en onderwysers.
  3. “Positiewe gedrag moet raakgesien en versterk word, en daar behoort negatiewe gevolge te wees vir gedrag wat lynreg met kernwaardes bots.” Hoeveel tyd spandeer jy aan “stout” kinders (veral met ‘n lang straf-prosedure) teenoor tyd wat jy spandeer aan kinders wat presteer?
  4. “Kinders behoort vroeg betrokke te raak by morele debatte oor dit wat hulle sien, hoor en beleef.”
  5. “Die ideaal is dat kinders en jong mense verskillende geleenthede sal kry om gedrag in te oefen waardeur waardes vasgelê word.” My kommentaar hierop is dat onderwysers die ideale geleentheid het om dit te doen sonder om dit in ‘n Lewens Oriënterings- of outydse Jeugweerbaarheid of een of ander Sedeleer-periode aan te plak. Jy kan dit elke periode in jou klas doen, want dit is deel van jou.
  6. “Waardes kan net suksesvol gevestig word indien in kinders se basiese behoeftes voorsien word.”

U kan die volledige artikel hier lees: (Kliek net hierop dan maak dit vanself oop indien jy internet het!)

https://dieburger.com/opinie/2014-06-14-die-jeug-se-waardes

Volgende week sal ek probeer om meer prakties te raak oor hoe ‘n onderwyser dissipline kan toepas.

Neem asb. deel aan die debat. Sê of jy met my saamstem of nie. Gee wenke wat jy weet wat werk. Doen dit hier onder in die blokkie vir “kommentaar”

1 thoughts on “Om dissipline te handhaaf kan lekker wees en hoef nie altyd konflik te beteken nie

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.